Thursday, June 9, 2016

'n Klein asem met 'n groot droom




Om een van ‘n klein groep mense te wees wat een realiteit raaksien, terwyl die groter massa iets totaal anders sien, is glad nie eenvoudig nie.

In die Bybel vind ons die verhaal van Josua en Kaleb in Numeri 13, waar Moses ‘n groep verkenners Kanaän toe stuur om te gaan kyk waarmee hulle moet rekening hou as hulle die nuwe land sou wou inneem. Daar word in die verhaal genoem dat hulle almal leiers is onder die volk. Stel jou voor hoe vertrek die groep op hulle ekspedisie en hoe hulle waarskynlik binne die eerste dae baie beïndruk is met wat hulle sien. Ons hoor dit later in hulle verslag as hulle vertel van die land van melk en heuning en as hulle voorbeelde van die reuse vrugte en produkte van die land na Moses terugbring.

Maar dit wat hulle gesien het was nie net goed nie. Die mense van Kanaän het hulle oorweldig en hulle het binnekort besef dat dit nie so eenvoudig gaan wees om hierdie land in te neem nie. Hulle moed het hulle begewe en hulle kon glad nie sien dat hulle hond haar af sal maak nie, maar dan lees mens die stem van een van hulle met die naam Kaleb, wat hom nie laat meesleur deur die stem van die meerderheid nie, maar kies om doelbewus ‘n ander stem te laat hoor.

So beskryf in Numeri 13 die gebeure:
27 Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte.
28 Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien. 29 Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en Amoriete in die Bergwêreld, en die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan.”
30 Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” 31 Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.”

Waarom kon Kaleb ‘n ander stem laat hoor as die res? Waarskynlik het hy verder gekyk as die tasbare bewyse wat hy voor hom gesien het. Hy het heel moontlik God se groter prentjie gesien wat van ‘n nuwe werklikheid gepraat het. Hy het dalk besef dat God se algebra anders werk as ons mense s’n en dat God paaie kan maak daar waar ons as mense geen uitkoms sien nie.

As God se kinders in hierdie wêreld bevind ons ons dikwels in situasies en kontekste waar ons ‘n ander stem moet laat hoor as die mense om ons. En dit geld letterlik alle kontekste waar ons ons moontlik bevind. In ons huise, by die werk, tussen ons vriende, in die kerk, in ons familie en letterlik in elke ander situasie waar ons kom. Selfs in die wêreld van ons eie gedagtes.

Nou wonder ek hoe dikwels is ek maar deel van die heersende opinie, die hoofstroom oortuiging, en hoe dikwels laat hoor ek ‘n ander stem, juis omdat ek anders droom en daarom anders sien? Kan ek in myself die ruimte vind om te besef dat ek ‘n klein asem met ‘n groot droom kan wees, veral wanneer daardie droom nie uit myself uit kom nie, maar iets van God se groter realiteit verteenwoordig.

Will Durant het eenmaal gesê die doel is nie om te probeer om iets te doen wat niemand anders nog ooit gedoen het nie. Die doel is om iets te doen wat enigeen kan doen, maar wat die meeste mense nie sal doen nie.  Of soos Mary Frances Berry dit gestel het: The time when you need to do something is when no one else is willing to do it, when people are saying it can’t be done.

God het mense nodig (so leer Joël ons) wat soos Hy gesigte kan sien en drome kan droom en anders kan kyk na realiteit, veral as min ander kans sien.

No comments:

Post a Comment