Wednesday, February 19, 2014

Never ending story





‘n Mens sal waarskynlik nooit uitgepraat kan raak oor
die kwessie van beheer in ons lewens nie. Party van ons is
blatante beheervrate, soveel so dat mense dit reguit in jou
gesig vir jou sê. Ander van ons se ego’s het al baie slim
geword en ons probeer beheer op baie meer subtiele
en gesofistikeerde maniere uitoefen. Dink maar aan hoe
ons soms maak met die mense in ons lewens. Ons sal op
baie slim maniere poog om hulle gedrag te wysig sodat ons
 meer in beheer voel van die situasie.
Dit is natuurlik al ‘n reuse stap vooruit om bloot te erken
dat ek soms sukkel met beheer. Die meeste van ons sukkel
 nog om raak te sien in watter groot mate ons behoefte
het aan beheer.
‘n Belangrike vraag is natuurlik waarom ek ‘n behoefte
aan beheer het? Beheer gaan eintlik maar daaroor dat ek
emosioneel onveilig voel as ek nie weet hoe dinge gaan
verloop of hoe mense gaan optree nie. Ek probeer dan die
illusie skep dat ek kan bepaal hoe iemand gaan optree of hoe ‘n situasie gaan afloop en glo dan dit dit my meer emosioneel veilig en “in beheer” laat voel. Die waarheid is dat ek baie minder beheer het as wat ek dink.
Ek kan hoogstens met tyd, en deur die krag van die Gees, ‘n (klein) mate van beheer oor my eie interne wêreld verky, maar selfs daar is ek maar uitgelewer aan my eie onvoorspelbaarheid.
As gelowiges word ons genooi om meer bewus te raak van beheer in ons lewens en om al meer persone en situasies in ons lewens aan God oor te gee. In Handelinge 5 (lees die hele verhaal in Handelinge 5:17-42) sien ons hoe die wyse Gamaliël ‘n belangrike gedagte in die midde laat van die beheersugtige Joodse Raad wanneer hulle probeer om die beweging van Jesus se dissiples te stop: 38 Laat staan hierdie mense en los hulle uit. As hulle beplanning en aksies mensewerk is, sal daar niks van kom nie. 39 As dit egter van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Net-nou word daar bevind dat julle selfs teen God geveg het.
Dalk kon ons ‘n kosbare les of twee by die wyse Gamaliël leer…
Dink bietjie:
·        In watter verhoudings in jou lewe probeer jy beheer uitoefen?
·        Watter situasies het jy vandag probeer beheer?
·        Wat is die interne gevolg van beheer in jou lewe?
·        In watter mate kan jy persone en situasies aan God oorgee in die wete dat jy in elk geval nie soveel beheer het soos jy dink nie?

No comments:

Post a Comment