Thursday, February 20, 2014

Wees wat jy is








Ons almal ken hierdie twee bekende beelde uit Matteus 5 redelik goed: Julle is die sout wat die aarde ‘n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar. Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word. Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê kan mos nie weggesteek word nie! ‘n Mens steek ook nie ‘n lamp op en maak dit onder ‘n emmer toe nie! Inteendeel! Jy sit dit bo-op ‘n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.
Wanneer mens die woorde lees is een van die eerste dinge wat mens opval dat die beeld so oorbekend is dat dit bykans niks meer vir ons sê nie. Maar – het jy al werklik die beeld geHOOR?
Jesus sê nie “kom leer hoe om sout te wees” of “kom leer hoe om lig te wees nie”. Hy sê “julle is dit”. As God se kinders IS ons reeds die sout en IS ons reeds die lig. Al wat van ons gevra word is om onsself oor te gee om aangewend te word vir waarvoor ons gemaak is.
Die oomblik as sout in kos gegooi word transformeer dit die smaak.
Die oomblik as die stad se ligte teen laatskemer aangeskakel word transformeer dit die donker horison.
Dalk lê die antwoord presies hierin: hou op probeer om iets te wees en gee jou oor om te wees wie jy reeds is. Vir elkeen van ons met ons eie persoonlikheid gaan die manier hou ek sout is en die manier hoe ek lig is verskil van die ander mense in my lewe, en dis ook hoe dit hoort. Ek het beslis ander gawes om te bring as jy, en jy verryk die wêreld op ‘n ander manier as ek. Tog kan sekere minder opbouende aspekte van my persoonlikheid juis in die pad daarvan staan dat ek sout en lig is. Weet ek wat dit is of is ek blind vir hierdie donkerder dele van myself?
Die beeld gaan verder: as die sout nie oor die kos gestrooi is nie en die lig nie skyn nie kom mens dit dadelik agter. Dit laat vra my ‘n belangrike vraag: Maak my teenwoordigheid in die wêreld waar ek leef so ‘n verskil, dat mense my bydrae en my gawes mis as ek nie daar is nie, of kom hulle dit skaars agter?
Julle is die sout wat die aarde ‘n beter plek moet maak. Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. Kom ons wees dit…

No comments:

Post a Comment