Thursday, January 8, 2015

Die dag toe Paddington God se stem gehoor het



‘n Mens vind van die waardevolste skatte in die flieks. So gaan kyk ek in die afgelope week saam met die kinders na Paddington.

Die verhaal begin met Paddington se sorgrvrye lewe in die woude van Peru. ‘n Natuurramp forseer hom om na Londen te vlug, waar hy hoop om die ontdekkingsreisiger, wat die bere 40 jaar vantevore aan onder andere marmelade bekend gestel het, te ontmoet. In Londen aangekom is die stad baie koud en onvriendelik tot ‘n gesin besluit om hom, redelik teësinnig, in te neem. Met die verloop van tyd word hulle natuurlik lief vir hom, en toe hy in lewensgevaar is begin hulle na hom soek.
Voor hulle hom egter kan vind word hy deur ‘n bose vrou met ‘n “slaappyltjie” geskiet sodat sy hom kan opstop vir die museum. Die volgende toneel speel dan af.
Paddington lê alleen en bewusteloos op ‘n ystertafel terwyl die bose vrou gaan ondersoek instel na ‘n kragonderbreking. Die pa van die gesin, mnr. Brown, roep van buite in die koue deur die venster na Paddington om hom te probeer wakker kry. Nog steeds in ‘n beswyming dink Paddington dat hy dood is en sê: “God?”….(stilte, en dan) “You sound a lot like mr. Brown.”

Hierdie toneel het my aangegryp. Is dit nie presies hoe dit met ons werk nie? In ons soeke na God vind ons dikwels mense wat soos God klink en lyk. Mense in wie ons God hoor en sien. Soms is dit die mense saam met wie ons tot lewensveranderende insigte kom. Soms is dit die mense in ons lewe wat ongenaakbaar eerlik met ons is sodat ons onsself kan sien. Soms is dit die mense wat bereid is om nie net die hele pad saam met ons te loop nie, maar wat ook bereid is om ons te konfronteer oor ons gedrag en die effek van ons gedrag op ander. Soms is dit die mense wat bel en daar is en gesels in moeilike of traumatiese tye. Soms is dit die mense wat kos en blomme bring wanneer ons of ons geliefdes siek is of swaar kry. God verskyn elke dag op eindelose maniere aan ons deur die mense in ons lewe.

Terselfdertyd word ek en jy natuurlik genooi om God se teenwoordigheid vir ander te beliggaam deur voortdurend met liefde, deernis, begrip, fyn aanvoeling, insig, dapperheid, eerlikheid en deursigtigheid teenoor hulle te leef.
Wanneer ons toelaat dat God ons harte al meer verruim sodat daar plek is vir Hom om in ons beliggaam te word, en nie net heeltyd met ons eie dinge besig is nie, word ons byna outomaties God se teenwoordigheid in ander se lewens, soos Mnr. Brown in die lewe van die beertjie, Paddington.




1 comment:

  1. Dankie vir die deel hiervan dis regtig n "pause for thought" werd

    ReplyDelete