Friday, January 16, 2015

'n Lewe van Oorvloed




In die tyd waarin ons leef is ons almal baie bewus daarvan dat daar groot druk op die aarde en haar hulpbronne is. Meer as ooit vantevore besef ons dat ons nie maar net oordadig kan leef na gelang van ons eie begeertes nie.
Baie mense in ontwikkelde en ontwikkelende lande dink eenvoudig nie aan die gevolg van hulle individuele leefstyl in die groter geheel nie.

Hieroor het Ghandi op ‘n stadium gesê: The world has enough for everyone’s need, but not for everyone’s greed. Ten spyte daarvan dat baie mense leef asof daar maar net altyd meer as genoeg sal wees, sien mens aan die ander kant by mense ongekende interne suinigheid.

Diep binne onsself leef baie van ons met ‘n gesindheid van skaarsheid. Daar is iets krampagtig aan ons interaksie met mekaar. Dis opmerklik dat mens hierdie gesindheid beslis ook by gelowiges aantref. En tog sou mens verwag dat ons, van alle mense, met ‘n gesindheid van vrygewigheid sal leef. 

Lyk ons nie maar presies soos al die ander mense om ons nie? Sou ons nie dalk kon bewus word hoe min van onsself ons gee en hoe geslote ons harte vir ander is nie? Is ons nie veronderstel om meer vrygewig te wees met ons geld en ons goed nie? Kan daar nie by ons meer ruimte wees om stil te staan en in mense se oë te kyk en te luister nie? Sou ons dit nie dalk in onsself kon vind om al meer met ‘n gesindheid van oorvloed teenoor mense te leef nie, en minder emosioneel armoedig en suinig te wees in ons interaksie met die mense met wie ons elke dag te doen kry nie? 

Dink net hoe suinig is ons soms met onsself teenoor ons huismense. Hoe skaars is ons soms aan openheid en ruimte vir ander. Hoe krampagtig klou ons soms aan ons ego’s vas, bang dat ons die bietjie wat ons dink ons het gaan verloor.
Jesus het presies die teenoorgestelde gesindheid kom leef en so vir ons kom wys dat God se hart en God se wêreld ‘n plek van oorvloed en vrygewigheid is. Dink maar net aan die bekende woorde van Johannes 10:10 Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Of Johannes 14:2 In die huis van my Vader is daar baie woonplek.(Ek hoor eintlik hoe Jesus sê: In die huis van my Vader is daar baaaaaaaaaaaie woonplek!) Of selfs Jesaja 55:1 Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.En dink aan die oorvloed van die Boom van die Lewe in Openbaring 22:2 Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.

Ek dink God sou graag wou sien dat ons in navolging van Jesus groei in ‘n gesindheid van vrygewigheid en oorvloedigheid van hart, en dat ons al meer sal sterf aan ons ingeboude gesindheid van skaarsheid, gebrekkigheid en krampagtigheid. Mag ons elkeen leer om nie suinig te wees met onsself nie.

No comments:

Post a Comment