Thursday, May 1, 2014
Die Heiligheid van Alledaagsheid
Een van ons mense se interessante kenmerke is dat ons voortdurend besig is om te wens vir en te droom oor ‘n beter lewe. “As dit en dat gebeur, sal dit soveel beter met my gaan…” of “As ek maar net…, dan sal ek…” Vir baie van ons is hierdie diepgewortelde smagting so subtiel dat ons dit nie agterkom nie.
Tog is die tekens daarvan oral te bespeur. In die kritiek teen ons kinders of lewensmaats. In die drome en planne oor ons huis en tuin. In die ewige planne vir ‘n volgende vakansie. In die regpak van my winterklerekas.
Onmiddelik kan mens vra: Is dit ontevredenheid, of is dit die behoefte om jouself te verbeter? Mens sal seker lank hieroor kan debatteer. Daar is natuurlik niks daarmee fout om jouself te wil verbeter en beter dinge in die lewe te ervaar nie, maar mens sou ook kon vra: wat is fout met hoe dinge is? Dis juis die alledaagsheid van ons lewens wat ons dikwels onderkry en dis hierdie alledaagsheid wat die behoefte na meer ontketen en wat my laat vra of ek nie baie subtiel besig is om weerstand te bied teen hoe my lewe is, en eintlik besig is om ontevredenheid te verdoesel as ‘n behoefte aan verbetering nie?
Alledaagsheid is die reël van ons lewe en nie die uitsondering nie. Dis waaruit my en jou lewe bestaan. Elke oggend dieselfde patroon, elke dag dieselfde ritme, week in en week uit, maand in en maand uit dieselfde verantwoordelikhede, dieselfde eise. In plaas daarvan om voortdurend daarna te smag om uit my alledaagse lewe te breek, word ons dalk op ons pad met God geroep om juis die alledaagsheid van ons lewe te omarm.
Bestaan daar ‘n kans dat jy die reëlmaat van jou dae kan begin sien as ‘n heilige ritme? Is dit dalk moontlik dat jy te midde van dit wat elke dag van jou vra diep bewus kan wees van die stroom van God se Gees wat deur die detail van jou lewe vloei? Sou jy dalk kon begin om die alledaagse in jou lewe nie meer te sien as ‘n straf nie, maar die bedding waarin God se saad in jou lewe konstant, ritmies en onuitwisbaar groei?
Prediker 9 verwoord iets daarvan om bewus te leef van God terwyl die lewe om en met jou gebeur:
7 Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met 'n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. 8 Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie. 9 Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld. 10 Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen...
Die boustene van God se pad is helaas nie die buitengewone nie, maar die alledaagse.
Nie dat die buitengewone nie ook soms kom nie – en wat ‘n vreugde is dit dan nie! (Dis presies waarvoor Sabbatstye en vakansies en rustyd daar is.)
Die gevaar is net dat my smagting en verlange na die buitengewone en my ontevredenheid met hoe dinge is, my kan beroof van ‘n kosbare geleentheid om bewustelik te leef en te groei in die Heiligheid van Alledaagsheid. So word die alledaagse mettertyd in God se hande buitengewoon…
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment