Thursday, July 31, 2014

Op jou eie voete




Die bekende skrywer Scott Peck sê op ‘n stadium : “It is the most psycologically and spiritually mature among us who are the least likely to grow old mentally.”
Hy skryf verder dat  daar baie mense is wat in die lang volwasse fase van hul lewe nooit werklik emosioneel en geestelik volwasse word nie, nooit werklik vir hulself en hul eie lewe verantwoordelikheid aanvaar nie. Wanneer hulle dan ouer word skuur die ouderdom die dun lagie vernis oor die mondering van volwassenheid af en kom daar iemand uit wat eintlik maar nog die verwagtings het van ‘n kind wat nooit tevrede gestel is nie. Scott Peck vertel verder dat baie van die mense wat by hom beland vir terapie soos emosionele kinders is wat grootmensklere dra. ‘n Mens sien dit aan die veeleisende, manipulerende en selfgesentreerde manier hoe hulle optree. Hy vertel ook van ‘n mentor van hom wat eenmaal gesê het: Ah , Scotty, an adult is a marvelous thing! Daarmee het hy natuurlik bedoel iemand wat werklik volwasse is, is ‘n plesier om te beleef en te aanskou, want daar is so min van hulle. Dis interessant genoeg juis diegene wat gekies het vir die ongemaklike pad van diep emosionele en geestelike groei en transformasie wie se ouer jare inderdaad goue jare is, want vir hulle hou groei nooit op nie, nie tot die dag van hulle dood nie. (Scott Peck Different Drum:143).
Wat ‘n vreesaanjende gedagte: tussen ons loop baie mense wat volwasse voorkom – hulle maak kos en het kredietkaarte, hulle ry karre en besit besighede, hulle doen belangrike werke, het self kinders en huishoudings waarvoor hulle verantwoordelik is, maar diep in hulself is hulle nie besig is om as eg geestelik en emosioneel volwasse mense te leef nie.

 Natalie Smith, die skywer van “Stand on your own feet” vertel van Thomas Merton se heel laaste toespraak voor sy dood in Bangkok in 1968. In die toespraak vertel hy die storie van ‘n monnik wat uit Tibet moes vlug en hoe hy aan ‘n ander monnik in dieselfde situasie vra wat nou gedaan. Die ander monnik reageer toe so: From now on we all stand on our own feet. Dit beteken natuurlik nou weer nie dat ons na die anderkant toe oorhel en dink dat ons nie afhanklik van God hoef te leef en selfvoldaan en eiegeregtig word nie. Selfvoldaanheid en eiegeregtigheid is eintlik maar net nog ‘n vorm van geestelike onvolwassenheid. Volledig op ons eie het ons almal voete van klei. Dis juis as ons afhanklik van God leef dat ons begin sien hoe nodig ons Sy uitdagende leiding en rigtinggewende groei in ons lewe het. Dis juis as ons op God se insig vertrou dat ons insig in ons eie onvolwassenheid kry en tot voordeel van die mense om ons kan begin leef. As gelowiges nooi God ons om verantwoordelikheid vir onsself en ons keuses te aanvaar en ander te bevry van die emosionele las wat ons dikwels op hulle plaas.

Maya Angelou het die onderskeid gemaak tussen veroudering en volwassenheid. Ons kultuur kort desperaat ware wyse mense. Mense wat nie net verouder nie, maar mense wat emosioneel en geestelik so wys en heel is dat die res van ons by hulle kan leer oor ‘n lewe van wysheid en heelheid, mense wat mettertyd self God se gawe aan die mense om hulle geword het. Is jy besig om een van daardie ware wyse mense te word?

Saturday, July 26, 2014

Die Taal van Kleur




Daar is baie tale op aarde wat nie woorde het nie: wiskunde, musiek, emosies, kuns.

En dan is daar kleur.
Kleur is waarskynlik een van God se grootste wonders.
Die eerste maal as jy met moeite probeer om name op ‘n kleurwiel te leer kan nie vergelyk met die dag waneer jy die naam van die kleur hoor en dit nie net voor jou sien nie, maar voel hoe dit soos ‘n klein vuurwerk in jou hart ontplof.
As jy na die wolke kyk en nie net blou en wit en grys sien nie, maar ‘n hele reënboog van subtiele skakerings.
As jy ‘n rooi blom verf en sewe kleure moet gebruik.
As jy besef swart is nie net swart nie, maar afhangende van die palet word seker bloue en rooie, of sekere groene en rooie die diepste, rykste fluweelswart denkbaar.

Cadmium Red Hue, Cadmium Red Deep Hue, Alizarin Crimson, Naples yellow,
Lemon yellow, Indian yellow, Pthalo, Cerulean, Indigo, Burnt Siena, Van Dyke,
Viridian, Sap green, Cobalt Violet, Titanium White.
 
Met tyd word die name musiek, prente en emosies.

Skoonheid




Ek was nog altyd behep met skoonheid, enige vorm daarvan. Trouens dink ek ek is verslaaf daaraan. Tog moes ek leer om nie verslaaf te wees aan die skoonheid as sulks nie, maar aan die Een wat binne die skoonheid staan. Ek moes leer om dieper te kyk as die perfekte en volmaakte en om skoonheid ook in die aardse, alledaagse, onperefekte, selfs lelike raak te sien, want dis nie net daardie skone dinge wat aan ons onnatuurlike menslike standaard van skoonheid voldoen wat skoonheid vergestalt nie, maar elke lewende ding wat God se wese diep adem.

Ann Voskamp (2012:110-112) verwoord dit aangrypend:
I want to see beauty. In the ugly, in the sink, in the suffering, in the daily, in all the days before I die, the moments before I sleep. Isn't beauty what we yearn to burn with before we die? That is what I crave: I hunger for Beauty. Beauty is the voice endlessly calling and so we see, so we reach. Doubt the philosophies, doubt the prophecies, doubt the Pharisees, but who can doubt this, Beauty? Beauty requires no justification, no explanation; it simply is and transcends. See beauty and we know it in the marrow, even if we have no words for it. Someone is behind it, in it. Beauty Himself completes.

All beauty is only reflection. An whether I am conscious of it or not, any created thing of which I am amazed, it is the glimpse of His face to which I bow down. Do I have eyes to see it's Him and not the thing? True, authentic beauty requires of us, lays claim to us, and it is this, the knees bent, the body offered in obedience. A pantheist's god is a passive god, but omnipresent God is Beauty who demands worship, passion, and the sacrifice of a life, for He owns it.

Thursday, July 24, 2014

Gewoontediere




Ons mense is mos maar gewoontediere. Ons het vaste patrone waarvolgens ons funksioneer en ons lewens inrig. Ons voorkeure en afkeure het oor jare diep kepe in ons manier van leef ingegraveer. Natuurlik het ons ‘n hele aantal goeie gewoontes, maar ons het ook gewoontes wat nie noodwendig vir ons of ander goed is nie. Dis hierdie gewoontes wat ook nie so maklik verander nie.
Hier dink ek onder andere aan bepaalde denkpatrone oor myself en die lewe, my manier van konflik hanteer, hoe ek reageer in tye van krisis en spanning, en so meer. Natuurlik is baie van ons nie eers mooi bewus van ons ingewortelde patrone nie.
Daarom is ‘n ordentlike skoot selfkennis onontbeerlik op ons geloofspad. Te veel gelowiges skram weg van selfkennis omdat hulle voel dat dit hulle selfbehep maak, maar die realiteit is dat die meeste van ons nie insig in ons gedrag en optrede sal ontwikkel as ons nie weet wat die dieper dinamika in my persoonlikheid is wat my gedrag of manier van dink bepaal nie.
Ann Voskamp haal op ‘n stadium vir Desiderius Erasmus aan wat eenmaal gesê het: A nail is driven out by another nail; habit is overcome by habit. Net soos ek nodig het om ‘n spyker wat al vir jare in die hout vassit, van die ander kant af met ‘n ander spyker en hamer uit te slaan, so het ek nodig om dikwels ou, uitgediende of nadelige gewoontes te vervang met nuwes.
Sien jy kans om die Timmerman toe te laat om jou te wys watter van jou ou gedrags- en denkpatrone is dalk uitgedien of nadelig; watter ou gewoontes moet dalk plek maak vir nuwes?
Die proses wat nodig is om van ou gewoontes ontslae te raak is redelik intensioneel. Die spyker val nie op ‘n dag vanself uit die hout nie. Op ‘n bewustelike manier sal ek van die ander kant af moet begin om die ou dinge te takel, te dekonstrueer en veral te verstaan hoe dit gekom het dat ek hierdie gewoontes het.
Die beste manier om ou gewoontes te verander is waarskynlik om in die teenoorgestelde gesindheid op te tree as my natuurlike voorkeur. Om doelbewus nie by die kafee te stop vir daardie sjokolade nie. Om willens en wetens my stapskoene aan te trek al is ek hoe lui. Om my wekker te stel vir my tyd saam met God al is ek glad nie lus nie. Om intensioneel te bid vir vrede as die angs my wil oorweldig. Om te besluit om oop te wees vir vertroue as bekommernis my wil insluk. Om te kies vir geduld en vriendelikheid as my gewoonte is om af te jak en nors te wees.
Hiervoor is dit natuurlik nodig dat ek gereeld sal gaan stil sit om te verstaan wat die dieper motiewe is wat in die donker water van my hart roer.
Om my oop te stel om deur God geleer te word,
om dit in te oefen en
myself vrywillig aan te meld om afgerig te word
 is die moeilikste deel van transformasie,
 maar daarsonder gebeur diepgaande, egte transformasie eenvoudig nie.
Dalk kan CS Lewis se woorde ons so bietjie help: If you think of the world as a place intended only for our happiness, you find it quite intolerable: think of it as a place of training and correction and it’s not so bad. Of die woorde van Romeine 12:2:
Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. So gryp daai hamer...


U sien alles

Here, U sien alles.
En ek hoop U sien meer
as die skouspelagtige gemors
wat ons mense hier op aarde
veroorsaak het.
Want vanaand sukkel ek...

Saturday, July 19, 2014

Die Kweekhuis




In die afgelope vakansie het ek en my kinders by die familie in die Kaap gekuier. Tydens een van ons uitstappies het ons die Kirstenbosch botaniese tuin besoek. Ek was al eenmaal vantevore daar, maar wat ‘n ongelooflike plek! Elkeen wat al daar was sal met my saamstem dat dit ‘n absolute lushof is. Trouens, dit is die grootste inheemse tuin in die wêreld. Terwyl ons daar was hoor ek onder andere dat daar in die tuin etlike kweekhuise is, maar dis veral die een kweekhuis wat my diep aangegryp het. Anders as al die ander kweekhuise is hierdie kweekhuis se taak nie om die plante vogtig te hou en teen uitdroging te beskerm nie, maar presies die teenoorgestelde.
Binne hi
érdie kweekhuis word die temperatuur so gereguleer dat dit so droog en warm as moontlik daar binne is, aangesien die kweekhuis volledig gewy is aan die behoeftes van plante wat uit die droogste, mees barre, warmste gebiede van Suid-Afrika kom, soos onder andere die Richtersveld. As hierdie plante dieselfde hoeveelheid water en koue as die res van die plante in die reuse tuin moes kry sou hulle doodgaan en verskrompel.
Dit het my onmiddelik laat dink dat hierdie plante in die “droë” kweekhuis tenoor die res van die plante, metafories is van ons mense en ons geestelike behoeftes.
Net soos die plante in die tuin het ons nie almal dieselfde behoeftes nie en is die ideale klimaat vir groei nie noodwendig vir ons elkeen dieselfde nie. Trouens, dit verskil dramaties! Dis dalk presies hoekom ons as gelowiges so sukkel: ons probeer voortdurend soos iemand anders wees wat ons dalk bewonder, of probeer op dieselfde manier groei as die ander mense om my. Kort voor lank kom ek agter dat dit nie vir my werk nie, dat ek nie tuis voel nie, maar ek sukkel maar voort, want ek glo as dit vir sus en so werk, dan moet dit vir my ook werk. So gebeur dit dan, dat ek in plaas van groei en floreer, mettertyd verskrompel en kwyn.
Dit kan natuurlik ook gebeur dat ek met die oortuiging leef dat as iets vir my goed is, dit vir ander ook moet goed wees, en nie kan verstaan hoekom ander so sukkel nie – dis mos eenvoudig!
Dalk is die dilemma dat die meeste van ons maar op ‘n manier aan geestelike luiheid (of “sloth” in Engels) ly. Ons wil nie noodwendig die werk en die moeite doen wat nodig is om uit te vind wat die optimale groei-omstandighede vir my met my persoonlikheid en spiritualiteit is nie, en verloor dan vinnig moed as ek nie groei soos ek gehoop het ek gaan groei nie. Die wyse woorde van die ou mistikus, Meister Ekchart, is hier uiters relevant:
We are all called to God on a different path. Do not follow the path of others. Follow the path that God has given to you.
Wanneer jy vir jouself vra watter omstandighede optimale groei in jou lewe sal meebring sal jy dalk heel verras ontdek dat dit nie is wat jy gedink het dit gaan wees nie.
Alhoewel die plante in Kirstenbsoch se kweekhuis se behoeftes verskil van die res van die tuin, het al die plante in die tuin een gemene deler en dit is dat die Tuinier, nadat hulle in die mees optimale omgewing geplaas is, vertrou dat hulle sal groei, vrug dra en floreer. Dieselfde is waar van ons. Die Tuinier wil met sorg na ons omsien (Johannes 15), sodat ons kan vrug dra in ons gemeenskappe en ons wêreld en vrug voortbring wat tot voordeel is van elke konteks waarbinne ons ons mag bevind.
Die vraag is nou of ek bereid is om my oop te stel vir God se Gees om my te neem na daardie plekke van groei en of ek bereid is om te besef dat dit wat vir my goed is en tot lewe lei, nie net lekker is nie.
Mag die “kweekhuis” die plek wees waar ek en jy die volhoubare krag kry om te gaan wees wat ons kan wees, want na alles is ons nie plante nie, maar mense met hande en voete en lywe.